Deur Lucky Vince Pienaar
Sy het voor die hoofpawiljoen gestaan en die volkslied gesing, en sy het die spyker op die kop geslaan – moontlik die beste weergawe van die volkslied wat nog ooit by ‘n sportgeleentheid gehoor is. En die aanhangers het by haar ingeval.
Keabetswe ‘KB’ Motsilanyane het die eerste deel van die volkslied gesing, toe die tweede, en toe stil, glimlaggend, met haar arms wydoop gaan staan.
En die skare het gereageer. Vir ‘n minuut lank het elkeen van die 50,000 aanhangers in ‘n volgepakte Loftus Versfeld-stadion die laaste deel van die volkslied sonder begeleiding gesing – ‘n nasie verenig.
Dis ‘n oomblik wat nog lank in die annale van Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis sal voortleef.
Rassie Erasmus het dit verlede jaar gesê: “Siya Kolisi is nie die belangrikste ding in Suid-Afrika nie. Suid-Afrika is die belangrikste ding in Suid-Afrika.”
Dit is die leuse waarvolgens die Springbokke die laaste vier jaar geleef het.
Siya Kolisi het dit al baie keer gesê, en hy het dit ná die wedstryd Saterdag gesê. “Wanneer ons speel, speel ons vir almal in Suid-Afrika.”
Saterdag op Loftus het daardie gees oorgespoel na die stem van die mense. Niemand wat daar was, en niemand wat dit regoor die land en die wêreld gekyk het, kon ongerep daarvan wegloop nie.
Op die foto hierbo: Die Loftus-skare laas Saterdagmiddag.
Bron: Springbokke/X






