Deur Everson Luhanga
‘n Man is dood nadat ‘n Shoprite-bestuurder hom glo Sondag in ‘n koelkamer toegesluit het – en hom toe vir 11 ure daar gelos het.
Hy is daarvan beskuldig dat hy ‘n sjokolade gesteel het.
Bandile Shabalala, 33, en sy vriend is in ‘n koelkamer by die Shoprite-winkel in Ratanda suid van Heidelberg in Gauteng gelos om te vries.
Sy medebeskuldigde het die koue weerstaan en oorleef om die storie te vertel.
Sy buurman en vriend Bayanda Radebe, wat Shabalala al jare lank ken, het gesê sy lyk is Maandag gevind.
Shabalala se dood het die gemeenskap kwaad gemaak en ure later het baie inwoners na die winkel gegaan, dit met klippe bestook en die deure beskadig.
“Woedende inwoners het Maandag in getalle opgeruk en die motor beskadig van die bestuurder wat volgens hulle die opdrag gegee het dat Shabalala in die koelkamer toegesluit moes word.
“Inwoners het ook klippe gegooi en die winkel se deure en vensters beskadig,” het Radebe gesê.
Radebe het gesê dit is nie ‘n ongekende voorval by die winkel nie. “Daar was al baie ander soortgelyke voorvalle, waar vermeende diewe aangekeer en in die koelkamers toegesluit is. Hulle word dan na ‘n paar uur vrygelaat.
“Dit is hoe die winkelbestuur verkies om vermeende diewe wat die winkel besteel het te straf.”
Radebe het gesê Shabalala het ‘n harde lewe gelei. Hy het beide sy ma en pa in ‘n kwessie van twee maande verloor. “Hy het ‘n jaar later sy ouer broer verloor wat tussen sewe mense was wat by ‘n taverne doodgesteek is. Shabalala se broer het ‘n man wat ‘n mes rondgeswaai het probeer stop toe hy doodgesteek is.
“Sedert hierdie gebeure was Shabalala se lewe nooit weer dieselfde nie,” het hy gesê.
Radebe het gesê Shabalala het gesukkel om werk te kry. “Hy het vroeër na my toe gekom en gevra of ek hom sou voorstel aan mense wat hom in diens kon neem. Hy was bereid om los werkies te doen om te oorleef.”
Polisiewoordvoerder Kolonel Moss Maluleke sê die Ratanda-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die 33-jarige Bandile Shabalala dood in ‘n koelkamer binne Shoprite by die Ratanda Mall gevind is.
Op die foto hierbo: Die winkel waar Bandile Shabalala in Ratanda suid van Heidelberg in Gauteng gesterf het.
Bron: Verskaf






