Deur Everson Luhanga
Honderde desperate hawelose mense – woedend oor hul huise wat vernietig word – het verkeer in die ryk woonbuurt Glen Austin in Midrand versper en motoriste se voertuie aangeval.
Die Red Ants-sekuriteitsmaatskappy, begelei deur die Johannesburgse metropolisie, het Donderdagoggend met mening begin om nog shacks te sloop ná die aanvanklike slopings wat twee weke gelede plaasgevind het.
In reaksie hierop het woedende shack-bewoners besige strate soos Dane- en Republiekweg versper, wat opeenhopings tydens die oggend se spitsverkeer veroorsaak het.
Shack-bewoners, wat sowat 5,000 hutte op die leë grond opgerig het, het geweier om uit die gebied te trek, al is hul tydelike huise vernietig.
Maar die Red Ants, metropolisie en ‘n private sekuriteitsfirma wat na die gebied ontplooi is, het nie teruggehou nie.
Die Red Ants het aan die deure van die shacks wat nog gestaan het geklop en as niemand gereageer het nie, het hulle die deure afgebreek en die shacks vernietig.
Honderde inwoners het hulpeloos toegekyk hoe mans en vroue met swart oorpakke en blou helms verwoesting saai onder wat vroeër hul huise was.
‘n Groot aantal wetstoepassers het die Red Ants, wat grawe, hamers en ander toerusting byderhand gehad het, begelei.
Sowat vyf vierton-vragmotors het hulle gevolg om die puin op te tel.
Die meeste van die hutte was gemaak van sinkplate en houtplanke met plastiekplate as dakke.
Die gebied rondom Rabie Ridge-polisiestasie was verbode terrein aangesien strate met klippe, bakstene en takke besaai was.
Omstreeks 2nm is ‘n trekkerlaaigraaf ingebring om die strate te help skoonmaak.
Louis Makhubele, ‘n inwoner, het gesê hy het tuis gebly om sy besittings te red nadat hy meegedeel is dat die polisie en Red Ants op pad was.
“Daar was ‘n boodskap op ons gemeenskap se WhatsApp-groep dat die polisie sou kom. Ek gaan gewoonlik uit om stukwerk te soek want ek werk nie, maar vandag het ek tuis gebly,” het hy gesê.
‘n Ma van twee, Lesego Nyambi, het op ‘n 20-liter-emmer gesit waar haar shack gestaan het. Slegs die fondasie het oorgebly nadat die hele struktuur gesloop is.
“Ek het in November verlede jaar hier ingetrek nadat ek die stuk grond gekoop het om my shack op te rig,” het Nyambi gesê. “Ek werk nie en ek het vroeër gesukkel om huur te betaal en kos vir my kinders te koop. Ek het hier ingetrek. Maar nou het ek nie ‘n huis nie.”
Scrolla.Africa het die eerste keer die storie gepubliseer van sogenaamde “shack farmers” wat stukke grond verkoop aan desperate mense wat op soek is na verblyf.
Sedertdien het een van die grondverkopers wat geld by die inwoners ingesamel het, spoorloos verdwyn.
‘n Gemeenskapsleier het in gesprek met Scrolla.Africa gesê die “shack farmers” verkoop ‘n stuk grond vir R700 en het R300 by elke hut ingesamel om ‘n prokureur te betaal wat die regering sou verhoed om hulle uit te sit.
Die man wat die geld ingesamel het, is twee weke laas gesien en niemand weet waar hy is nie.
Terwyl die polisie en die Red Ants die toneel verlaat het, is gesien hoe ‘n paar brawe inwoners hul hutte herbou.
Op die foto hierbo: Die grond waar die hutte opgerig is.
Bron: Everson Luhanga






