Deur Doreen Mokgolo
Thobeka Godlwana was vreesbevange en vasgekeer in ‘n brandende shack toe sy Saterdag in die vroeë oggendure geveg het om haar kinders se lewens te red. Sy het in die vlamme gesterf.
Die 47-jarige van Tsakani in Ekurhuleni het met die hulp van haar bure haar dogters van agt en 18 jaar oud deur ‘n venstertjie na veiligheid gedruk.
Maar sy was nie so gelukkig nie.
Sy was in die vlamme vasgekeer en het ‘n opening probeer vind toe sy aan haar beserings beswyk het.
Die brand het glo in die kombuis ontstaan en oor die drievertrekhut versprei na die kamer waar die gesin geslaap het.
Hulle is wakker gemaak deur die agtjarige wat die toenemende hitte gevoel het, maar toe was die groter deel van die shack reeds aan die brand.
Buurvrou Nomsa Hlatswayo het met Scrolla.Africa gepraat en gesê hulle is wakker gemaak deur die deurdringende hulpkrete, gevolg deur fluitjies wat die gemeenskap gebruik om te waarsku wanneer iemand hulp nodig het.
“Toe ek buitentoe gaan om te kyk wat aangaan was Thobeka se hut oortrek van die vlamme. Ek het die glas van die venster stukkend geslaan en probeer om die staal diefwering te buig om die kinders deur te trek.
“Ons het toe met die tralies gesukkel en kon dele losssny sodat sy haar twee dogters kon uitstoot.
“Ongelukkig kon ons haar nie red nie. Ons het saam met die bure probeer om die vuur met water te blus om haar lewe te red, maar die vlamme was te fel.”
‘n Familielid, Bathabile Radebe, het gesê hulle is steeds geruk deur die tragedie.
“Ons probeer steeds sin maak van wat gebeur het en wat die brand kon veroorsaak het, aangesien die oudste dogter gesê het alles insluitend die verwarmer was afgeskakel.
“Dit is selfs hartverskeurend dat ons amper die hele gesin in die brand verloor het,” het sy gesê.
Lebogang Ramaesa, woordvoerder van die Tsakani-polisie, het gesê hulle het ‘n doodsondersoek geopen.
“Die oorsaak van die brand is onbekend en ondersoeke is aan die gang,” het hy gesê.
Op die foto hierbo: Treurende familielede van Thobeka Godlwana, links.
Bron: Doreen Mokgolo